26 November 2020

Die storms van ons tyd!


Ons leef in ‘n era waar die storms van tegnologies gedrewe “Nuwe Wêreld Koloniale-Imperialisme” (1492 tot 1945) steeds gewoed het.  Die natuurlike gevolg was dat moderne nasionalisme in die ou en nuwe wêreld ontstaan het (1776 tot 1945).  Die realiteit is dat nasionalisme toe in die ou wêreld op gesleur is in die groeiende storm van imperialisme.  Amper asof Europese nasionalisme net as 'n sosiale tegnologiese ontwikkeling ingespan is om imperiale doelwitte te bemagtig.  Die uiteinde en hoogtepunt van die imperiale storm was die wêreld oorloë van die vroeg 20ste eeu.  En toe die storm gaan lê het was beide die ou wêreld en die nuwe wêreld nasionalisme feitlik totaal onder imperiale ideologiese modder vasgelê.  'n Mens kan sê dat die Koue Oorlog bloot 'n ideologiese oorlog was om daardie modder slik te laat hard word en so nasionalisme totaal te begrawe.  Die ontnugtering van die wêreld oorloë was vanuit die oog van mense met imperiale drome ervaar en nie uit die hart van verdwaasde gemeenskappe nie.  Die ganse wêreld orde na die twee wêreld oorloë was gerig daarop om 'n wurg greep te kry en te hou op enige vorm van die oorspronklike spesies van nasionalisme.

Nasionalisme het ‘n universele ekwivalent vir fascisme en kommunisme geword en die liberale demokratiese wêreld orde was daarteen opgestel - waar net individue teenoor die staat staan.  Daar was aktief binne alle liberale demokrasieë gewerk om te verseker dat mense ooit weer waarde sou sien in onafhanklike norm vormende gemeenskappe, net die internasionale was aangemoedig.  Uiteindelik, teen 1991, het die liberale orde in werklikheid geheers van uit die mag van die willige elite van feitlik elke nasie, volk en taal wat teen daardie tyd suksesvol gekoöpteer was om deel van ‘n nuwe imperiale liberaal demokratiese wêreld ryk te word.  ‘n Imperiale Ryk waar geen vorm van nasionalisme vry kon ontstaan of bestaan nie.  Hierdie tipe onderdrukking van die imperiale wêreld ryk word geregverdig met die ideologie van oop gemeenskappe en word globalisme genoem en die elite onderhou dit steeds, grootliks ten koste van feitlik alle onafhanklike norm vormende gemeenskappe.  Die doel is steeds om totaal geïsoleerde individue te skep wat weerloos teenoor die staat en imperiale doelwitte staan.  Dit moet onthou word dat die gekoöpteerde elite bestaan binne en tussen alle mense groepe en kan herken word aan hulle groot invloed en hulle toewyding aan internasionalisme ten koste van onafhanklike norm vormende gemeenskappe.

Maar soos liberaal demokratiese idees gelei het tot globalisme en een of ander form van ‘n imperiale wêreld ryk, het ‘n nuwe storm ontstaan – dramaties, verrykend en met energie wat steeds besig is om op te bou soos wat die mag van die enigste "Supermoondheid" verbrokkel en ander imperiale doelwitte begin mag op bou.  Tog het daar in dieselfde tyd ook die nuwe saad van ‘n nuwe tipe nasionalisme reg oor die wêreld begin ontkiem.  Nuwe nasionalisme wat nie aan een beskawing toegeskryf kan word nie.  Die saad van onafhanklike norm vormende gemeenskappe, reg oor die wêreld en nie die klassieke 19de eeuse Europese nasie state en kolonies nie.  Iets heeltemal anders as die orde wat die Vrede van Wesphalia veroorsaak het.  Hierdie nuwe tipe nasionalisme word in werklikheid tydens die opbou van die nuwe imperiale storm as groen brose nuwe lewende gemeenskappe gesien.  

Nuwe gemeenskappe wat die aard van die wêreld verstaan net soos wat dit die aard van imperialisme persoonlik en as groep aanvoel en verstaan.  Nuwe gemeenskappe wat nie meer verwonderd is oor modernisering nie, maar dit klaar geïnternaliseer het en dit nou wil gebruik om werklik ‘n gelukkige gemeenskap in ‘n wêreld van onafhanklike gemeenskappe wil wees.  In kort... geborge individue wat nie net as amorele entiteite deur ‘n mag sisteem beheer word nie.  Dit is ‘n nuwe nasionalisme wat die ontnugtering van die Wêreld Oorloë en Koue Oorlog en ideologiese onderdrukking ervaar van uit die gemeenskap self en sy plek in sy fundamentele beskawing en ‘n gemenebes van beskawings en menslikheid wil ervaar.  Dit kan beskryf word as organiese onafhanklik en ekologies geïntegreerde mens wees.

Die vraag is wat gaan die imperiale storm aan die magdom ontwikkelende onafhanklike norm vormende gemeenskappe doen?  Onthou dat meeste van die wêreld se elite het nog nie hulleself aan hulle eie onafhanklike norm vormende gemeenskap toegewy nie, en probeer steeds die imperiale internasionale gesag af dwing en handhaaf.  Die vernietigende rukwinde en storms van imperiale doelwitte woed steeds oor die magdom gemeenskappe wat werklik vry wil wees.  Die aard van die storm is baie bekend en is niks anders as wat geheers het van die vroegste tye van imperiale oorheersing.  

Wat belangrik is om in hierdie storm te onthou is dat nuwe tegnologie, net soos in die verlede, weer die aard van die nuwe imperiale storm gaan bepaal, omdat dit die doelwitte van die imperialiste en die onafhanklike eko-organiese groepe gaan kanaliseer, net soos die tegnologie wat die eerste en tweede wêreld oorloë gemaak het wat dit was.  Naas die tegnologie wat die uitoefen van mag laat ontwikkel het in ‘n totaal gefokusde en beheerbare mag sisteem, is daar nou ook ‘n tegnologie wat werklik die onafhanklikheid van alle norm vormende gemeenskappe kan dokumenteer en bewys, net soos wat dit alle individue se transaksionele en sosiale aard kan bewys en bo al kan daardie tegnologie ‘n regverdige alliansie sfeer beskryf en beskerm.  Ons noem die tegnologie “blockchain” en gebruik dit klaar om die aard van fiat geld te beskryf en transaksie rekords te beskerm.  “Blockchain” tegnologie is bloot ‘n inligting stelsel wat ‘n verspreide onvervalsbare register van enige transaksionele rekords en ooreenkomste bedryf en in stand hou.  In kort, blockchain bring kriptografies versekerde transaksionele sekerheid binne die bereik van enige gemeenskap wat dit kan gebruik.

Die probleem is dat blockchain tegnologie ook die uiterste vorm van imperiale onderdrukking kan bemagtig as die regverdigheid wat dit behoort te ondersteun van gemeenskappe weerhou kan word en die transaksie register weer vol gemaak kan word met transaksionele ongeregtighede.  Maar die aard van die verspreide en noodwendig losweg verbindings tussen onafhanklike gemeenskap-netwerke kan tog die energie en prosesseer vermoë van die blockchain ook baie suksesvol beskerm word.  Dit kan uit die aard van die verspreiding letterlik nêrens gemonopoliseer word nie, want enige groep en enige individu kan sy eie energie en prosesseer krag fokus op sy sfeer van transaksies en dit dan organies laat deel word van ‘n groeiende netwerk.  Die proses kan letterlik oor en oor repliseer, uitsterf en weer repliseer, altyd met dieselfde sekerheid oor wat aangegaan het.  

Dit kan vir onafhanklike gemeenskappe werk juis deur die organiese onafhanklikheid van gemeenskappe te gebruik, soos wat hulle die lokus van gelyke of plat netwerke in plaas van hiërargiese netwerke vorm.  Hiërargieë kan onafhanklik binne ‘n gemeenskap bestaan, maar dit sal geïsoleer tot daardie gemeenskap kan bestaan om die netwerk tussen gemeenskappe plat en gelyk te hou.  Dit is hoekom geen onafhanklike norm vormende gemeenskap veilig sal kan bestaan as dit nie self leer hoe om deel te wees van ‘n wêreld wye netwerk van ander transaksionele entiteite.  Wat ons ken as "staats administrasie" kan nou suksesvol en optimaal vir 'n verspreide gemeenskap en tussen gemeenskappe bestuur word.  

Die kardinale eienskap van blockchain tegnologie, is dat, net soos enige suksesvolle geld of ekonomiese stelsel, probeer hierdie tegnologie nie kompleksiteit beheer nie!  Al wat dit reeds bewys het dit kan doen is om volkome sekerheid te skep oor wat ‘n register se transaksionele toestand op enige oomblik in die hede en verlede is -  die kompleksiteit is daarom nie weg gevat nie, maar bloot transaksioneel en sintakties beskryf. Die beskrywing bevat nie volkome semantiese waarheid nie, maar dit bevat die sintaktiese aard van intensies en ons almal behoort te weet dat intensies nooit met volmaaktheid gelyk gestel behoort te word nie.  Dit is uit daardie transaksionele sekerheid wat vinnige en effektiewe regspraak en alliansies verseker kan word tussen individue as ook binne en tussen gemeenskappe.  Dit is hoe dit "staats administrasie" kan af wentel na ware onafhanklike norm vormende gemeenskappe, maak nie saak hoe verspei hulle bestaan nie.  Met hierdie tegnologie klink dit dalk nou moontlik om oor ‘n Utopia te praat, maar wag tog so 'n bietjie.

Kom ons praat oor nog ‘n tegnologie wat vir ons era nog meer kan beteken selfs as die Gutenberg gebeurtenis van die middel van die 13de eeu, wat die Era van Verligting momentum gegee het. Hierdie uitstaande en “demokratiserende nuwe tegnologie” is vandag algemeen beskikbaar.  Dit is ‘n vorm van Kunsmatige Intelligensie wat die vermoë het om die semantiese struktuur van taal af te lei vanuit ‘n magdom mensgemaakte digitale tekste.  Dit is ‘n tegnologie wat magdom tekste statisties kan analiseer en met brute prosesseer krag kan weergee.  Dit is ‘n tegnologie wat ook die bedoeling van kontrakte sal kan analiseer en vergelyk met al die kennis wat daar tussen mense gedeel kan word. Sonder om hier in te veel detail te probeer verduidelik hoe sulke Groot Taal Modelle werk, is dit net nodig om die naam van die mees bekende Groot Taal Model te noem – ChatGPT.  ChatGTP is maar net een van ‘n magdom Groot Taal Modelle wat nou die wêreld aan die gons het en almal is besig om te probeer sin maak van wat die potensiële impak is.
Groot Taal Modelle, Groot Oudio-Visuele Modelle, Groot Ontwerp Modelle, Groot Fisika Modelle en vele ander Masjien Geleerde Modelle, saam met BlockChain tegnologie wat sekerheid oor die inhoud van digitale tekste kan verseker, staan almal gereed om die mensdom kans te gee om werklik georganiseer te word op enige moontlike skaal.  Tyd sal leer hoe hierdie tegnologie ons idees en drome oor ons toekoms gaan bemagtig of nie. En dit bring ons nou weer by ‘n punt waar ons versigtig en selfs skepties kan vra oor Utopia.

As die droom van ‘n Utopia vir elke individu ooit kan bestaan dan moet dit logies gesproke wees waar ‘n individu ervaar wat dit werklik beteken om vry te wees en deel van sy eie, geliefde onafhanklike norm vormende gemeenskap te kan wees.  Dit sluit gemeenskappe van universele dwang uit want ons weet daar is mense wat hulle verhoudings vrylik wil kies en daaraan toegewy wees – dit staan teen anargisme en totale oorheersing.  Maar dit sluit alle sosiale verpligtinge in en daarom vereis dit ‘n veilige alliansie sfeer waar ‘n individu as deel van ‘n onafhanklike gemeenskap kan bestaan.  Dit is die mees natuurlike toestand van menswees, ‘n mens binne sy groep.  Daar is eenvoudig nie ‘n toestand van ‘n mens sonder ‘n groep nie, vir die eenvoudige rede dat geen mens wat in die wêreld kom kan oorleef sonder versorging nie.  (Drogbeelde van mense wat deur masjiene as absolute individue gebruik word is in die onlangse verlede deur baie populêre stories en flieks bekend gestel.)

Maar ons almal behoort te weet dat daar in ‘n humanistiese ruimte nooit so ‘n Utopia van onafhanklike gemeenskappe sal wees nie, altans nie totdat die enigste logies gesproke ware Goddelike gesag die komplekse aard van die alliansie sfeer van gemeenskappe sal kom bepaal nie.  Maar die belangrikste om te weet is dat die imperiale alternatief is die plek waar die individu teenoor alle ander individue, amoreel, atomisties en volkome blootgestel staan en die altyd korrupte heersers klas die imperiale doelwitte op individue sal probeer af dwing.

Die kans vir ‘n nuwe begin is al reeds ‘n realiteit, en ons almal sien die lande staan groen met die lewe van ‘n magdom nuwe onafhanklike norm vormende gemeenskappe.  Die storms woed steeds soos wat imperiale magte probeer om die onafhanklike norm vormende gemeenskappe uit mekaar te ruk sodat net slaafse individue teen hulle mag probeer staan.


1 comment:

Willem Pretorius said...

Dit maak soveel sin wat jy skryf. Ek hoor die aanhoudende herhalling van die geskiedenis. Wat deur die slimmes van die ou testement beskryf word, daar is niks nuuts onder die son nie. Al wat 'n daadwerklike verskil in die wêreld gemaak het was Jesus. En Hy kan dit weer doen, deur my en jou.