23 May 2023

Gees van oortuigings...

 

Ons wêreld het meer as genoeg probleme van sy eie hoor ons gereeld.  Maar dan is daar mos meer as genoeg geleentheid om oplossings te soek!  Dit is hoekom ek nou weer deur ‘n boek werk wat oor wêreld politiek gaan.  Seker omdat ek gedink het dat die moderne aard van die visioen wat Daniël van die Bybel moes verklaar het kan ons help om dinge vandag beter te verstaan.  Ek verwys na Nebukadneser se droom oor ‘n groot standbeeld wat magtige wêreld ryke voorstel, deur baie groot tydperke heen en meer belangrik, die beeld het “voete van yster en klei” en vir goeie redes dink ek dat ons histories wel, vanaf die era van Christus se eerste koms, in die era van die “voete van yster en klei” leef.  

In hierdie era, wat in werklikheid al die historiese gebruike en idees van al die groot magtige ryke wat ons era vooraf gegaan het, steeds regop hou, as 'n basis van yster en klei.  Ek dink dat, soos in die vorige eras, word oorloë veroorsaak en nie gemaak nie.  Dit word veroorsaak want ek glo geen enkele bewuste doelwit van ‘n groep mense kan ‘n oorlog maak nie. Oorlog word veroorsaak deur 'n komplekse sameloop van omstandighede. Is dit dalk die beste manier om na oorlog te kyk?  

Oorloë word nie gemaak nie, dit word veroorsaak.  In die boek wat ek lees word gepraat oor die beginsels van “offensiewe realisme” en “defensiewe realisme” en op ‘n manier behels dit in albei gevalle nie ‘n tipe “volkome beheer” oor die meganismes van oorlog nie - al is al die akteurs betrokke rasioneel besig met wat hulle glo die beste is om te doen.  Dit is asof daar ‘n "gees van oortuigings" van meeste mense onderliggend betrokke is wat dinge in ‘n sekere rigting dryf.  Dit is dalk so dat mense, groepe en individue met sterk entrepreneurs eienskappe meeste van die tyd hulle doelwitte onder die beskerming van soewereine volkere met hoofsaaklik edele doelwitte uitvoer en daardie inherent edele doelwitte veroorsaak dan op sy beurt oorlog en oorlog word uitgewoed, soos 'n storm uitgewoed word, dit word nie gemaak nie.

Dit is nie vir my duidelik dat enige van die moderne "Wesfaaliese Nasie State", vir een of ander bose rede, dit nie reg kry om in praktyk, te mik na die mees edele doelwitte wat hulle eie bestaan en selfs die bestaan van die mensdom in geheel betref nie. As volkere se bedoelings dan in meeste gevalle nie boos is nie moet daar tog iets anders onderliggend wees.  Dit is daarom nodig om te kyk na wat ons werklik beleef, wat die gees van oortuigings is wat in werklikheid daardie edele doelwitte beskryf.  Dít is wat ondersoek moet word in die res van hierdie stuk.

Wat nie vir my duidelik is nie, is die rede hoekom die aard van kompetisie tussen alle mense en selfs diere volgens "Darwinistiese mistastings" verstaan word. Ja, sonder om te veel tyd te mors om argumente te maak oor watter tipe kompetisie ek van praat, wil ek die stelling maak dat meeste volkere onderhou ‘n onderliggende gees van oortuigings wat hulle in terme van meganistiese en Darwinistiese prosesse verstaan en in stand hou.  Ek weet van geen maghebbers wat openlik Darwinistiese idees verwerp en ander ‘n ander gees van oortuigings na streef nie.  Wat ek moet doen om hierdie onsekerheid oor ons moderne mens se motiewe te ondersoek is om uit te vind wat was die algemene verstaan van kompetisie soos wat die mensdom dit van alle tye af verstaan het – soos wat dit dalk in al die eras van die vroegste tye af verstaan is.  Is dit dalk so dat die mensdom nie so intens bewus was van die manier hoe kompetisie in die natuur plaasvind nie en dit bloot uit instink uitgeleef is?  Wel, dalk is dit menslike instink wat ons sin vir kompetisie aanvuur?  Maar glo my, ek dink nie dat dit 'n tipe Darwinistiese en suiwer meganistiese reeks instinkte is nie.

Voor ons verder oor die aard en oorsprong van kompetisie gesels moet ek eers hier noem dat ek op die oomblik weer besig is om te luister na politieke akademikus, John Mearsheimer se boek, waar hy “Offensiewe Realisme” sistematies uitlê.  Die naam van die boek is, “The Tragedy of Great Power Politics”.  Die gedagtes vervat in hierdie stuk is verseker ‘n tipe argument wat ten doel het om Mearsheimer se akkurate maar, soos hyself erken, tragiese “gees van oortuigings” uit te daag.  Dit gee nie voor dat Mearsheimer foutiewe data en analise voorhou nie of dat die ander “gees van oortuigings” wat ek voorstel werklik antwoorde op sy tragiese insigte het nie.  My idees mik bloot in die rigting van iets wat dalk die “Tragedie” wat Mearsheimer raaksien, moontlik kan verhelder op ‘n ander manier as wat die algemene gees van oortuigings van meeste mense vandag ervaar.

Omdat ek nou al vir ‘n geruime tyd besig is om fundamenteel te oorweeg dat die aard van kompetisie in die natuur juis daarop dui dat die kompetisie gefokus is om die algemene harmonie van ‘n uiters diverse ekosisteem van spesies te verseker, gaan ek hierdie “gees van oortuigings” oor kompetisie inspan.  Die beginsel van my argument is dat, as die interaksies tussen individue... (Maar laat my eers verduidelik wat bedoel ek as ek na individue verwys... Ek verwys na ’n individuele organisme as daardie eenheid of struktuur wat as ‘n geheel staan, maar onafhanklik van ander strukture self of in samewerking kan repliseer om nog 'n individu te maak). Daarom, as die interaksies tussen individue en ander individue binne hulle eie spesie en ook met ander spesies en ook die omgewing in die algemeen, slegs op oorlewing gefokus is, dan sal die aard van die verskeidenheid en uniekheid van spesies glad nie gelyk het soos wat dit nou lyk nie.  Om voor te gee dat die moderne weergawe van Darwin se teorie nie oor die oorlewing van die individu gaan nie maar oor die oorlewing van die spesie gaan is baie misleidend en verkeerd volgens die streng a-teleologiese en meganistiese aard van interaksies wat toegewyde Darwiniste waarneem in alle lewe.  

Die interaksies is altyd ‘n interaksie van ‘n individu met ander individue of goed.  Die feit dat spesies kan saam span om oorlewing te bewerkstellig is juis wat verduidelik moet word aan die hand van die doelwitte om slegs die blindelingse of doellose oorlewing van die individu te verseker.  Dit is verder duidelik dat daar soveel spesies is wat interaksies met ander spesies en die omgewing kan inspan om oorlewing te bewerkstellig, ten koste van die feit dat daardie interaksies nie naastenby meganisties en statisties meer waarskynlik is nie.  Dit is ‘n inherente vereiste van a-teleologiese prosesse wat geen abstrakte doel kan nastreef binne die Darwinistiese “gees van oortuigings”.  Die lewensvorme wat ons sien en beleef op aarde moet gemeet word aan suiwer meganistiese prosesse, maar as ons dit doen dan sien ons van uit eerste beginsels dat dit is nie meganies, chemies, energie gewys, of inligting gewys die statisties mees waarskynlike manier vir daardie organismes om te oorleef nie, ongeag die omgewing.  Op die meeste kan ‘n mens erken dat ‘n eensellige organisme wat met die optimale of beter wordende meganistiese, energie-, chemie- en inligting-struktuur bestaan, omdat ons sien dat eensellige organismes binne alle bekende ekosisteme die vermoë het om optimaal te repliseer sonder enige onnodige of oneffektiewe strukture en sistemiese afhanklikhede. Dat so ‘n eensellige organisme die logiese, enigste en noodwendige uitkoms van ‘n streng Darwinistiese bestel is, vorm die kruks van die rede hoekom ek dit verwerp en aanvoer dat kompetisie nie oor oorlewing gaan nie, maar oor iets totaal ander en iets totaal beter en meer menslik as wat Darwin voorstel. (Ek weet dit is populêr om jou eie menslikheid te verag, omdat ons so vernietigend is, maar dit is juis die probleem wat ek probeer aanspreek want ek glo daardie vernietigende aard is juis Darwin se skuld.) 

Dit is vandag vir ons moontlik om daardie tipe optimale strukture te identifiseer soos wat ons kennis oor die interaksies van materie dit vir ons verduidelik in “klassieke meganika” en “inligting wetenskap” as ook die “Algemene Relatiwiteit Teorie” en ook “Kwantum Meganika”.  Ons sien dit as ekologie van vele soorte.  Maar, as lewe se interaksies blindelings, a-teleologies, sonder doelwitte neig om daardie suiwer fisiese optimale toestand van oorlewing van enige individu te verseker, dan sou die wêreld glad nie hierdie tipe interaksies en ekologie, oor ‘n lang tydperk waar suiwer statistiese- of waarskynlikheids-gebeure, dinge fisies "uitsorteer" sodat net die mees waarskynlike oorbly.  Wat in Darwin se fantasie behoort oor te bly is Verseker nie interaksies wat fisies so “sub-optimaal” is soos wat ons wel ervaar nie.  

Hier moet ek dalk ‘n verklaring maak oor wat inligting in ‘n a-teleologiese werklikheid beteken, dit wil sê inligting sonder inherente betekenis of doelwitte - soos wat materialistiese determinisme voorstel.  As jy jou verstand vêr genoeg buig dan beteken die inligting wat in lewe vervat word, slegs ‘n meganiese struktuur wat baie spesifieke chemiese interaksies tot gevolg het, wat lei tot strukture wat lewe... in die sin dat die strukture sonder doelwitte energie gebruik om daardie strukture wat “lewe is” self te laat repliseer en 'n volgende geslag laat voortleef.

Verder is die argument ook dat jy nie die struktuur van die "eerste lewe" in terme van betekenisvolle inligting kan beskryf as jy ‘n materialistiese Darwinistiese idee daaroor koester nie.  Dit is in hierdie gesprek daarom baie belangrik om in te sien dat my argument nie eens probeer om die oorsprong van lewe in die eerste plek te verklaar nie – Ek aanvaar die oorsprong van eerste lewe aksiomaties.  Dit is baie moontlik ‘n totaal sinnelose standpunt aangesien dit nie rasioneel sin maak om sommer net die ontstaan van lewe te aanvaar en dan ‘n Darwinistiese verklaring vir die ontstaan van diverse lewe en diverse interaksies soos wat ons dit sien in die wêreld wat ons bewoon.  Maar kom ons aanvaar in beginsel die ontstaan van die eerste lewe sonder 'n fisiese verklaring, want dit is wat Darwin probeer verklaar wat belangrik is en dit is waarom ek sy teorie wil toets aan die werklikhede van die aansprake wat hy maak.

As dit nou duidelik geword het dat Darwin se meganismes nie die fundamentele aard van die interaksies van alle lewe is nie.  Dat die interaksies nie blindelings en meganistiese oorlewing probeer bewerkstellig nie, word afgelei uit die sub-optimale aard van meeste van die interaksies as dit gemeet word aan wat die werklike statisties optimale interaksies waarvan ons wel bewus is.  Statisties optimale interaksies kan so voor die hand liggend en onteenseglik waargeneem word in al die ekosisteme van eensellige organismes – So, daar is geen verskoning van onkunde aan ons kant nie – Ons kan dit met ons eie oë en wetenskaplike metodes toets en weer toets - dinge gaan nie verander as dit net oor die prosesse van die fisiese wêreld gaan nie.  Daar is eenvoudig nie ‘n argument daarteen nie. ‘n Darwinistiese argument wat, selfs in beginsel, die optimale aard van eensellige organismes en hulle ekosisteme kan ondermyn bestaan nog nie.  As die interaksies van ‘n struktuur om te oorleef meer afhanklikhede, meer interaksies met die omgewing vereis, meer energie nodig het as wat statisties optimaal is, dan sal daardie afhanklikhede bloot uit meganistiese waarskynlikhede ‘n kleiner kans hê om te veroorsaak dat daardie struktuur kan repliseer en oorleef, soos wat suiwer Darwinistiese, meganistiese oorlewing beskryf.  Die geheim om hierdie teen-intuïtiewe argument te verstaan is om te verstaan wat doellose natuur in werklikheid is.  Dit is nie moeilik nie, ons sien dit is soveel fisiese prosesse en ons het soveel wette van die natuur wat juis daardie doellose prosesse beskryf.

Die feit dat ons die grense van die "struktuur wat oorleef" arbitrêr probeer kies om dalk die spesie te wees, om dalk die volk te wees, om die kolonie bakterieë te wees, om die woud bome te wees, om die skool visse te wees, om die swerm bye te wees, om die swerm voëls te wees, om die trop bokke of leeus te wees, maak nie saak waar en hoe ons die struktuur wil beskryf nie.  In ‘n suiwer meganistiese blindelingse proses weet ons presies wat die megano-chemiese interaksies is wat meer optimaal is om oorlewing te verseker.  Dit is daardie kennis wat ek oproep om ingespan te word om oor Darwin se teorie te dink.  

Dit kan nie geïgnoreer word dat niks van Darwin se teorie sin maak nie.  Wat Darwin nie antwoord nie is: “Hoekom oorleef en floreer die mees oneffektiewe meganistiese strukture van materie? Hoekom is daar soveel verskeidenheid wat onnodige interaksies inspan? Hoekom word energie verbruik meer as wat nodig is om suiwer meganistiese replisering in die vorm van oorlewing te veroorsaak?  Hoekom is daar interafhanklikheid tussen verskeie sel strukture wat verseker dat die organisme nie sal kan repliseer voordat ‘n reuse aantal baie komplekse interaksies alles eers volkome reg afgeloop het nie? (Wat ek bedoel is dat selle wat nie kan oorleef as al die ander selle saam op 'n baie spesifieke en komplekse manier moet repliseer, soos wat ons in multi-orgaan organismes en eintlik enige meer-sellige organismes sien, problematies vir Darwing is, juis omdat ons weet eensellige organismes het dit nie nodig nie en oorleef in baie meer omgewings as wat meer-sellige organismes.)  Hoekom is die wêreld betrek met organismes wat verskeie interafhanklike organe en geslagtelikheid het?  Hoekom is daar soveel vorms en verskeidenheid dat ons waarlik verstom moet staan teenoor juis die oneffektiwiteit wat al daardie verbasende interafhanklikhede veroorsaak in die proses van replisering?  Hoekom is selfs die mees verstommende struktuur wat as ‘n individu klassifiseer geklassifiseer word so vol van selle wat organe maak wat net sub-optimale interafhanklikhede te weeg bring? Hoekom is die wêreld glad nie, nie eens in beginsel, glad nie betrek met slegs die meganisties optimale organismes nie? Hoekom is die wêreld oortrek met die mees asemrowende organismes met die mees asemrowende interaksies wat ons oor kan dink of selfs droom?  Hoekom is daar organismes soos ons wat energie kan mors om te dink oor ons eie interaksies, terwyl ons weet dat die “ekosisteem van zombie bakterieë” soveel beter as ons is as dit kom by Darwinistiese oorlewing?

Dit is juis hierdie tipe vrae en die uiters vrugbare veld van ondersoek wat die vrae impliseer, wat ek nou voorstel om die fundamentele basis van ons verdere ondersoek te word.

As ons aanvaar dat ons vir een of ander rede glo dat Darwin se meganistiese aansprake oor die interaksies van alle spesies is om oorlewing te verseker en dat uit daardie interaksies vloei, sonder taal of rede, ook alle interaksies tussen mense en enige meganiese struktuur wat mense kan veroorsaak.  Interaksies soos ‘n volk, ‘n weermag, ‘n wapen arsenaal, ‘n ekonomie, ‘n handelsvloot, ‘n grens en ‘n muur... al daardie strukture en hulle interaksies.  As ons dit aanvaar dan is daar in praktyk ‘n baie duidelike gevolg van so ‘n meganistiese en Darwinistiese “gees van oortuigings”.  

Daar kan ‘n boek geskryf word oor hoe mense hulle self beleef en hoe ons die afgelope drie-honderd of selfs vier-honderd jaar al kyk na alles wat ons doen as mense.  Ja, ek sluit meeste Christelike idees en gedagtes van die afgelope paar eeue by hierdie “meganistiese mistasting” in, want as julle mooi oplet, kan enige iemand glo dat God, in Christus, juis hierdie tipe Darwinistiese meganismes inspan om sy doelwitte te bereik en ons moet maar geliefd neem daarmee.  Dink maar net aan die invloed van die deïstiese denkers van die Era van Verligting op die Christendom.  Dit is by uitsondering wat sinvolle vrae oor ons gedrag as mense gevra word wat nie die “gees van oortuigings” navolg wat deur Darwin verwoord is nie.  

Dit is daardie gees wat ons moderne oorloë beskryf.  Omdat ek nie Mearsheimer se boek wil oorskryf nie, gaan ek julle aanmoedig om, as julle die boek lees, net te probeer om julle eie “gees van oortuigings” te toets aan die vrae wat ek hier bo gevra het.  

Om af te sluit gaan ek die vrae vra wat ons dalk mag help om aan te hou soek na waar daardie tragedie van potensiële vernietiging van alle meer-sellige organismes vandaan gaan kom.  Ja, mense handelinge wat baie moontlik kan lei tot die vernietiging van alle lewe of baie moontlik vernietiging van slegs die sub-optimale strukture van lewe, sodat net eensellige organismes die ware oorlewendes is.  Ja, ‘n werklikheid soos wat Darwin se idees dit oor ons mensdom soos ‘n vloek uitgespreek het.

Die vrae wat my help, volg op die vrae wat ek vroeër gevra het: “Hoekom is kompetisie in die natuur gefokus daarop om komplekse gene te bevoordeel, wat uiters komplekse, mooi, tegnologies verhewe en nuttige strukture in stand hou? Is ons menslike kompetisie nie juis op dieselfde tipe kompleksiteit en doelgerigte en bewustelike interaksies gefokus nie? Het die mens nie ten doel om die spesies van interafhanklike volke en ander menslike strukture en instansies en doelwitte en liefdes so op te stel dat verskeidenheid van lewe die grootste doelwit van ons eie bestaan en alle lewe se bestaan is nie? Is ons nie fundamenteel en diametries teen die blote “oorlewing van die spesie of individu” gefokus op die ontstaan en beskerming van ‘n bewussyn van al hierdie verstommende diversiteit van wesens en die ganse heelal van wonderwerke wat ons nog kan beleef nie? Hoekom moet ons daardie werklikheid van menslike en alle lewende organismes se interaksies sien met ‘n gees van oortuigings wat fundamenteel elke keer terugkeer na ‘n “blindelingse stryd vir oorlewing”, terwyl die werklikheid ooglopend ten doel het om bewussyn en samewerking van ‘n groeiende verskeidenheid van meganismes te veroorsaak?  Hoekom verlaag ons die interaksie van mense met mekaar tot die laagste redes vir ons moraliteit en nie die hoogste moontlike redes vir ons moraliteit nie?  Hoekom erken ons nie dat Darwin se gees van oortuigings net kan lei tot optimale zombie strukture van lewe soos wat ons dit in eensellige organismes sien?  Hoekom beskou ons ons eie lewe, ons geslagtelikheid, ons sintuie, ons taal, bewussyn, liefdes as geïsoleer van alle ander vorms van lewe, sodat ons narcissisties en solipsisties probeer om onsself soos zombie bakterieë te maak?  Hoekom verlaag ons ons bestaan tot dit wat Darwin se vloek bring?  Hoekom laat ons toe dat ons gees van oortuigings deur Darwin en sy dissipels gevorm word?

Ek glo dat as ons hierdie Darwinistiese gees van oortuigings verwerp ten aansien van die ware diep betekenisvolle, teleologiese, nie-reduksionistiese, bewussyn gefokusde bestaan en ware liefde vir dit wat buite die individu beleef kan word en ten koste van die individu lief gehê  kan word, as ons dit kan doen, dan sal ons die tragedie van ons tyd ook kan gereed maak vir die koms van ons Verlosser en Saligmaker en die Skepper van alle dinge – Jesus Christus die Woord wat aan die begin by God en self God was, waaruit alle dinge ontstaan het wat ontstaan het.  Ons sal Hom wat alle vorme van lewe sien, versorg en koester kan ontmoet met ‘n gees van oortuigings wat Hom waardig is.


No comments: