30 April 2014

Simmetrie


Die doel van hierdie gedagtes is om, op die ou einde, uit te lig dat daar soms verwarrende idees oor die strekking van die wetenskap is.  Hopelik maak dit dinge duideliker, maar as dit debat uitlig, glo ek sal dit nog meer waardevol wees, want die subjektiewe aard van ons bewussyn word net verhelder deur ander perspektiewe.

Wat is simmetrie?

Simmetrie is 'n verskynsel waar party toestande verander terwyl ander dieselfde bly. (Simmetrie kan in absoluut rustende terme beskryf word - Simmetrie is 'n verskynsel waar party toestande ooreenstemmende eienskappe het.) Dit moet abstrak en konkreet beskryf kan word.  Daarom is die begin aannames:
  • 'n Konkrete toestand is enige fisiese toestand
  • Absolute rus is nie logies moontlik vir konkrete objekte
  • 'n Abstrakte toestand is enige meta-fisiese toestand
  • 'n Abstrakte toestand en konkrete toestand kan in dieselfde simmetrie betrokke wees
  • As ons aanvaar dat die bewussyn iets is wat betekenis gee, dan is dit die enigste of alles omvattende form van observeerder wat bestaan.  
Wat nou ondersoek moet word is of:
  • 'n Simmetrie onafhanklik van 'n observeerder kan bestaan?
Dit blyk voor die hand liggend dat 'n simmetrie moet ten minste begrens wees, maar kan alle moontlike toestande insluit.  Byvoorbeeld "Gauge Symmetry", verstaan ek, het verband met 'n reeks toestande wat onmeetbaar of ooglopend verskillend is maar lei tot dieselfde eienskappe.  Amper soos X + Y = 74.

Waar kom simmetrie werklik voor?

In die konkrete en abstrakte wêreld word simmetrie altyd gebreek deur die reël van "non-contradiction" (i.e. A=A en nie A=B nie).  'n Interessante aspek hiervan bepaal dat die term "iets is dieselfde" nie noodwendig oor tyd uitgestrek kan word nie. As 'n toestand oor tyd uitgestrek word is dit nie simmetries t.o.v tyd nie, maar wel ten opsigte van ander eienskappe. "A" kan net "A" bly oor tyd as dit los van tyd is, anders is dit altyd "At0" en "At1".  Dus kan simmetrie nooit in terme van die verloop van tyd gesien word nie en kan ons aflei dat sonder abstrakte konsepte daar nie iets soos simmetrie is nie.

Die natuur kan nie self los gemaak word van die toestand van tyd nie, maar 'n bewussyn kan 'n toestand oor tyd laat uitsprei en so betekenis aan alle simmetrie toeken. Anders gesê:
Fisiese toestande kan nie sonder 'n verandering in tyd dieselfde bly of verander nie. Dit wil sê, as toestand B verander het oor tyd na toestand C en toestand A het A gebly oor dieselfde tyd, dan is die toestand van A nie 'n fisies korrekte stelling nie, want At0 het eintlik At1 geword en is At1 net in 'n abstrakte sin dieselfde as At0.

Hieruit word dan afgelei dat alle simmetrie 'n abstrakte komponent het.  Dit blyk daarom eenvoudig onmoontlik om te praat van 'n suiwer fisiese simmetrie, sonder om die verloop van die fisiese vloei van gebeure te ondermyn.  Dit is dan ook heel moontlik die mees logiese om te aanvaar dat abstraksies (i.e. iets wat verwys na iets anders as die ding self), dan altyd 'n simmetrie is, en dit is dan wat 'n bewussyn as betekenis ervaar - en dit lyk vir my of alle betenis dan 'n simmetrie is.

Dit behoort nou duidelik te wees hoekom ek nie sien hoe die natuur wetenskap wat op induksie, of anders gesê, die "normale verloop van die natuur" , gebasseer is, enigsins die vermoeë het om simmetie of betekenis te definieer nie.  Tog maak 'n bewussyn wat wetenskap beoefen geen sin sonder die vermoeë om simmetrie te definieer, dit kom daarop neer dat wetenskap nie sonder die abstrakte behoefen kan word nie, al is die fokus van wetenskap, die studie van slegs die konkrete.

Die finale afleiding wat ek maak is dat daar nie eens 'n taal bestaan wat kan beskryf hoe ons bewussyn uit enige fisiese toestand tot stand kan kom nie.  So 'n situasie sal net verander kan word as daar 'n antwoord is vir die vraag, "Hoe lyk 'n fisiese simmetrie sonder die abstrakte?"

2 comments:

Michael said...

Daar is 'n nuwe idee in die buurt en dit kom van my gunsteling ateïs David Deutsch.

Ek link die UD blog se artikels nie omdat ek dink hulle kritiek akkuraat is nie, maar omdat ek dit hier die eerste keer raak geloop het.

http://www.uncommondescent.com/cosmology/our-deepest-theories-in-science-are-wrong/

http://www.uncommondescent.com/intelligent-design/new-theory-of-physics-attempts-to-incorporate-informations-central-role-in-nature/

Michael said...

Ek dink Deutsch en sy maat het die regte aanslag in hulle poging om Shannon se teorie van inligting met kwantum meganika se benadering tot inligting te vereenselwig. Dit is nie 'n maklike taak nie want die doelwit is om determinisme met indeterminisme te vereenselwig. Daar sal 'n wonderlike nuwe taal geformuleer moet word om hierdie logies teenstrydighede met mekaar te vereenselwig.

Lekker man lekker... Ek sal dit dop hou net omdat ek nie van enige ander ateïs weet wat hierdie uitdaging so eerlik en opreg aanpak. Dit is hoekom ek die hoogste respek vir Deutsch het.