11 September 2016

Liefde vir geregtigheid.


Een van die magtigste menslike eienskappe is nie fisiese mag nie, dit is abstrakte oortuigings aangaande ons realiteit in geheel. Dit is 'n magtige eienskap want dit bepaal die verloop van ons realiteit te midde van die verloop van die natuur.  Om dit te illustreer kan ons maar net kyk na die mens se ontdekking van die abstrakte konsepte soos Einstein se relatiwiteitsteorië (Spesiale Relatiwiteit en Algemene Relatiwiteit) as ook die abstrakte beskrywing van die fisiese wêreld in kwantum teorieë. Hierdie abstrakte verwantskappe in die natuur wat bloot afgelei is uit die mees abstrakte sienings oor natuurverskynsels het gelei tot die ontsluiting van kernkrag, die magtigste energie bron wat die mens nog ooit kon intap. Die mens se abstrakte vermoë het 'n oneindige bron van energie ontsluit!

Maar dit is verseker nie al wat deur die mens se abstrakte vermoë ontsluit word nie en al is kernkrag 'n magtige realiteit van ons tyd is daar 'n ander effek wat uit die abstrakte denke van die mens vloei.  Net soos wat die abstrakte beskrywing van die natuur wette ons wêreld vir altyd verander, so word ons beskrywing van geregtigheid en ongeregtigheid ook 'n magtige invloed op ons alledaagse lewe.

Uit een hoek gesien is dit baie duidelik dat daar verseker wesenlike effekte is wat kom uit die abstrakte konsep van "vrees vir ongeregtigheid". 'n Vrees vir ongeregtigheid is daardie vrees dat jy of jou groep te na gekom gaan word.  Die voorbeelde van hierdie tipe vrees is legio en elke mens kan sy eie lys maak.  Dink ook maar net aan iemand soos Dawid wat psalms gesing het oor die vrees vir ongeregtigheid wat hy beleef het. Die kere wat ek saam met Dawid my vrees vir ongeregtigheid uitgeroep het tot God is meer as wat ek kan tel.

As ons na ons huidige wêreld omstandighede kyk dan sien ons nasies en volke vasgevang in hierdie selfde tipe vrees vir ongeregtigheid:

* Dit is die vrees in die harte van die Israelies wat sien hoe ongeregtigheid teen hulle volk gepleeg word, te midde van die vrees vir ongeregtigheid wat in die harte van Palestynse leef.

* Dit is die vrees wat die Noord Koreane oortuig dat hulle nie 'n veilige bestaan kan hê nie - ongeag die feit dat die vrees dalk 'n tipe "staatkundige psigose" uit die hart van 'n diktator is, bly die vrees eg en baie gevaarlik.

* Dit is ook die vrees in die harte van Iraniërs wat glo dat die Westerse magte met Saudi Arabië saam span teen hulle godsdienstige en teokratiese oortuigings.

* Dit is die vrees in die harte van Sjinese wat glo dat hulle toegang tot hulpbronne gaan hulle vooruitgang verhinder, te midde van die vrees wat die res van die wêreld het dat Sjina se behoeftes hulle eie behoeftes en doelwitte gaan ondermyn.

* Dit is die vrees vir die ongeregtigheid wat aan mense gedoen word deur 'n verlies aan "vryheid van denke", soos die onderdrukking van die staat op soveel terreine... Laat jou gedagtes maar net gaan en kyk hoeveel van hierdie tipe vrees bestaan. Hierdie tipe vrees vir onderdrukking bestaan ongeag die feit dat party (outokratiese) heersers steeds glo dat geregtigheid net uit die hart van 'n heerser kan kom en dat geregtigheid nie deur enige individu ontdek kan word nie.

* Dit is die vrees van die Afrikaner, dat ons regte op identiteit en gelyke geleenthede aktief ondermyn word. Dat die Afrikaner nie mag deelneem op grond van ons nuttigste karakter nie, maar onderwerp word aan oorheersing. Dit is te midde van die vrees dat Afrikaners se uitnemendheid ander volke se geleenthede vir vooruitgang gaan verhinder.

* Dit is die vrees wat in die harte van die ou Israel geleef het toe Habakuk vir hulle van die Babiloniese oorheersing vertel het.

Uit hierdie voorbeelde kan die aard van hierdie abstrakte vrees vir ongeregtigheid afgelei word?  Een ding blyk duidelik en dit is dat die tipe ongeregtigheid is veel meer as blote oorlewing van 'n individu.  Die hoeveelheid irrasionele vrese in die wêreld is ook verseker nie weglaatbaar nie.  Hoekom is hierdie eienskap van menswees so magtig en is dit regtig nodig om in soveel vrees te leef?  Hoekom is dit so magtig in die verloop van die mens se totale geskiedenis?

Hierdie prentjie is baie duidelik verstaanbaar vir ons almal, maar omdat "vrees vir ongeregtigheid" so 'n  ooglopend negatiewe konsep is, kan dit natuurlik net so maklik beskryf word in 'n volkome positiewe sin. Die liefde vir geregtigheid... Soos Dawid moet die mensdom dalk ook deur ons vrees beweeg en ons liefde vir geregtigheid uitleef. 

Die grootste liefde vir geregtigheid is logies gesproke net in die hand van die een wat reg en verkeerd kan bepaal.  Die opsies wat die mens in hierdie verband kan oorweeg is baie moontlik net een van twee, 1) "self-geregtigheid" of 2) "eksterne-geregtigheid" wat ontdek kan word.

Die oorsprong van ons bewussyn van reg en verkeerd is 'n fundamentele vraag wat deur die eeue heen beskryf is in terme van die aard van ons realiteit. Ons glo met goeie redes byvoorbeeld in 1) 'n God wat die Skepper en Onderhouer van die heelal (dit is die totale realiteit) is (d.w.s. Teïstiese beskouing), of 2) ons glo in 'n god wat geskep en totaal ontrek het (d.w.s. deïstiese beskouing) of 3) ons glo dalk in 'n realiteit wat eenvoudig net is (d.w.s ateïstiese beskouing). Met hierdie kompleksiteit en moontlike onsekerheid  aangaande die aard en oorsprong van reg en verkeerd in gedagte, kom ons werk steeds net met die eenvoudige en praktiese vraag...

Kom geregtigheid uit die mens se subjektiewe abstrakte oortuigings of word dit deur die mens ontdek soos wat dit op sigself en objektief bestaan?

In hierdie vraag is 'n groot sleutel tot 'n ware liefde vir geregtigheid, want as ons 'n oortuiging kan deel dat geregtigheid is grooter as enige individu of groep mense, dan kan ons saam daarna soek.

Uit persoonlike ervaring kan ek net praat van my eie ontdekking van die geregtigheid wat in God, die liefdevolle en betrokke Skepper en Saligmaker van die mens is. Hierdie spesifieke geregtigheid kan net uit God self kom en nie deur 'n mens verwerf word nie. Dit is 'n toestand van bestaan wat die wese van 'n Christen oopstel vir die volkome ontdekking van geregtigheid in alle moontlike toestande en abstraksies/gedagtes oor ons realiteit. Dit beteken nie dat die mens 'n volmaakte wese is nie, maar dat ons 'n volmaakte wese gemaak word in elke keuse wat ons in God se geregtigheid neem. Dit is in God se hart om enige mens,  Christen of nie, vry te stel om sy goddelike geregtigheid te ontdek. Ek is oortuig dat hierdie proses van die ontdekking van geregtigheid vir ewig nuut in ons wese sal wees... 'n Ewige ontdekking van die volmaakte wese van God.

Daarom kan ek getuig dat my geregtigheid in Christus gee my die vrymoedigheid om met enige mens of selfs enige moontlike idee/abstraksie/oortuiging oor ons realiteit in gesprek te tree met die doel om my liefde vir geregtigheid teenoor God en mens uit te leef.  Dit sluit die soeke na 'n regverdige oplossing vir alle vrese, wat ook ons vrese vir die magtige effekte van kernkrag insluit.

Dit is daarom van kardinale belang dat mense, wat dalk nie eens glo in universele geregtigheid, tog uitgenooi word om hulle oortuiging te ondersoek, al is dit net om lokale geregtigheid te bewerkstellig.

Omdat die uitnodiging tot 'n soeke na wedersydse geregtigheid vele kere nie slaag nie,  moet daar gelet word op die feit dat daar iets nuuts in die mensdom se verloop ingetree het... Dit het te doen met die vermoë om fisiese mag oor mense uit te oefen.  Die skrikwekkende wonder van kernkrag verseker eintlik dat enige groep (groot of klein), in beginsel, se vrees vir ongeregtigheid met respek besin moet word.  Die rede hiervoor is natuurlik die noodsaaklike aard van geregtigheid wat in die ooreenkoms vir die "teen-plorifirasie van kernwapens" gesetel is.  Die mensdom onderwerp hulleself aan die voorkoming van die verspryding van kernwapens slegs omdat daar 'n tipe ooreenkoms van universele beskerming van regte en geregtigheid tussen nasies bestaan.

Op hierdie oomblik word hierdie ooreenkoms van mag uit kernwapens om universele respek af te dwing en geregtigheid te verseker getoets deur Iran, Noord Korea, en selfs Brexit, 9/11,  en verskeie wêreld handelsgeskille, verskeie ontwikkelings doelwitte en geskille, Griekeland/Italië/Spanje se geldstelsel, Brasilië en Suid-Afrika en ander korrupsie geskille en vlugtelinge in en om Europa, en... en... en...

En steeds word die wêreld se sienings oor vreese vir ongeregtigheid en ook liedfe vir geregtigheid intens getoets. Dit behoort 'n skrikwekkende prentjie vir enige mens te skep, daarom kan ons net bid en glo dat wedersydse respek en soeke na geregtigheid die mensdom tot voordeel strek. Mag God ons spaar!  Mag die hart van Christus deur die werking van die Heilige Gees ons veilig hou! Kom Here Jesus kom gou!

Daarom sluit ek hierdie gedagte af deur op te merk dat die magtige energie van kernkrag kan waarlik ingespan word deur mense wat 'n opregte liefde vir geregtigheid het... Kernkrag het die vermoë om die aarde 'n skoon volhoubare lushof van lewe te maak, maar mense se vrees hou hierdie moontlikheid versluier vir meeste mense. Dit is hartseer dat kernkrag in die mens se hand gekom het op 'n tyd toe die vrees vir ongeregtigheid die norm was en is, maar die invloed van Christus deur die eeue het nog altyd die vrees vir ongeregtigheid uitgedryf! Mag elke mens opreg soek na geregtigheid en die genade van God onse Vader ons pad verlig.

No comments: