2 August 2018

Die monastiese & asketiese voorbeeld...

Was die monastiese Christen ordes van die post-Romeinse ryk nie dalk die primêre oortuiging vir die barbaarse Europese stamme se aanvaarding van 'n suksesvolle moraliteit en uiteindelik die Christen Westerse beskawing nie?

Hierdie stelling impliseer ‘n paar oortuigings wat bespreek moet word.  Die eerste oortuiging wat uitgelig moet word is dat die Westerse beskawing ‘n Christen beskawing is, nie omdat dit noodwendig die Kerk van Christus op aarde “geword” het nie maar eerder omdat die morele suksesse van die beskawing van uit die algemene kerk van Christus gekom het.  Hierdie Christen moraliteit is toe suksesvol in die sekulêre wêreld toegepas.  Dit is hoekom dit nie verkeerd is om van die Judeo-Christelike tradisie van die Westerse beskawing te praat nie, aangesien daar ‘n harmonie tussen die Ou Testamentiese en Nuwe Testamentiese moraliteit is.  Hierdie oortuiging verklaar baie van die vroeë Westerse beskawing en ook deel van die aard van die Westerse beskawing vandag en daarom bly dit ‘n nuttige rigting wyser.

Die volgende oortuiging uit die grond stelling van hierdie stuk is dat die monastiese Christen ordes ‘n baie vroeë verskynsel tydens die finale val van die Romeinse ryk was en aangegaan het tot en met die vestiging van die Westerse beskawing.  Hierdie oortuiging aanvaar dat die ryk van Karel die Grote (Charlemagne) die inleiding tot die moderne Westerse beskawing was.  Daar is ander oortuigings wat die Klassieke beskawings ook deel van die Westerse beskawing wil noem, maar die Griekse en Romeinse beskawings het ‘n unieke begin en definitiewe einde gehad, wat dit onderskei van die Westerse beskawing.  Hierdie oortuiging sluit nie die logiese invloed van die klassieke beskawings uit nie.  Die rede vir hierdie onderskeid is bloot om die fokus op die beskawings proses van die barbaarse stamme van Europa te plaas.

Die kritiese idee wat in hierdie stuk ontdek behoort te word, is geleë in die verhouding tussen monastiese en asketiese gedrag en die barbare wat daarmee gekonfronteer was.  Die monastiese ordes het na die wêreld gekyk en besef dat, om naby aan Christus te kom dit geregverdig is om die wêreldse begeertes totaal te versaak en in absolute persoonlike toewyding aan God alleen te leef.  Dit moet net genoem word dat monastiese oortuigings nie ‘n oorsprong in die Christendom gehad het nie, maar wel baie suksesvol oorgeneem is vanuit Indiese en Oosterse monastiese ordes.  Die algemene kerk van Christus het dit suksesvol oorgeneem en verder uit gebrei, as ‘n regmatige deel van die liggaam van Christus.  Die grond stelling van hierdie stuk word nie benadeel deur die feit dat die monastiese ordes soos meeste menslike instellings ook deur eras van ernstige morele korrupsie gegaan het nie.  Dit is die suiwer praktyk en dogma van die monastiese ordes wat hier belangrik is.

Die sleutel van die Westerse beskawing het gekom van uit die feit dat die monastiese ordes, as deel van die algemene kerk van Christus, die onbeskaafde massa oortuig het dat beskawing groei uit innerlike selfbeheersing en nie uit materiële vooruitgang nie.

As hierdie stelling reg is, verklaar dit moontlik ook hoekom vandag se onbeskaafde massa nie die morele skuif na beskawing maak nie.  Dit is bloot omdat die Westerse beskawing totaal afgesien het van die monastiese en asketiese oortuigings.  Daar is in baie min dele van die hedendaagse liggaam van Christus nog plek vir totale aflegging van die wêreldse begeertes en ‘n absolute toewyding aan ‘n verhouding met God.  Dit is belangrik om te weet dat hierdie toedrag van sake ontstaan het saam met die Westerse weergawe van die humanistiese beweging.  Hier word aanvaar dat die denke en tyd van Jean-Jacques Rosseau hierdie humanistiese beweging ingelei het.  Hierdie form van humanisme is heel moontlik ‘n totaal unieke gebeurtenis in die geskiedenis van die mens, maar die uitkomste van hierdie fokus weg van ‘n verhouding met God na ‘n absolute verheerliking van die mens en ‘n verheerliking van die natuur, is voor ons almal se oë om self te evalueer.  Dit is ook nuttig om te onthou dat Rosseau die mens buite die institusies van die beskawing as die “volmaakte” entiteit gesien het en daarom vereis het dat alle institusies hervorm moet word om die onaangetaste toestand van die individu te beskerm.  Dit is wat ons nou ken as klassieke liberalisme wat uit Rosseau en die humanistiese beweging gevloei het en daarom op sy eie ‘n groot uitdaging vir die proses van beskawing van enige moderne barbaar geword het.  Maar laat ons in hierdie stuk Jean-Jacques Rosseau eerder afspeel teen die monastiese ordes se invloed op die Europese barbare van die ontstaans tydperk die van Westerse beskawing.

Die moderne Westerse beskawing ervaar vandag 'n baie sterk invloed van klassieke liberalisme as ook ander mutasies daarvan soos kommunisme en sosialisme.  Daar is weinig mense wat ‘n moderne weergawe van die monastiese Christen moraliteit kan beskryf, wat nog te sê van uitleef.  Dit is dan waarom daar met reg gevra kan word, wat gaan van die moderne wêreld se beskawings prosesse word?  Gaan daar ‘n liberale moraliteit kristalliseer wat nie self-vernietigend is nie?  Gaan daar weer ‘n voorbeeld ontstaan wat innerlike self-beheersing bo selfbevrediging en materiële vooruitgang stel?

Dalk moet Jean-Jacques Rosseau se humanisme eerder gerig word op ‘n wesenlik verlore en bose mens wat deur Christus regverdig voor God gestel word, sodat so ‘n herskape mens nou vrylik in ‘n alles insluitende verhouding met God, mense en die Skepping kan staan - gereed om deur God van objektiewe moraliteit geleer te word.  Wat met “alles insluitende verhouding” bedoel word, is ‘n tipe morele verhouding met God wat, anders as die Oosterse monisme, God as Vader, maar ook as die Skepper sien.  God wat onafhanklik en verheerlik bo sy skepping staan, maar in Christus persoonlik en menslik betrokke by sy Skepping is.  Hierdie nuwe morele siening kan dalk ontstaan uit ‘n klassieke Christen verhouding, waar God in alle aspekte van beskaafde naasbestaan betrokke moet wees.  In plaas daarvan om hierdie wêreld af te skryf, eerder hierdie wêreld te hervorm as die koninkryk van God en nie van die mens nie?

No comments: