15 May 2019

Wat Hegel en Nietzsche my vandag geleer het...


Ek het pas wéér klaar geluister na die voorlesing van twee vreeslik insiggewende boeke oor die toestand van ons wêreld.  Die titels van die boeke is:

“The Clash of Civilizations and the Remaking of World Order” deur Samuel P. Huntington
“The End of History and the Last Man” deur Francis Fukuyama

My kern oortuiging is dat die vernietiging van aktiewe Christen waardes is steeds besig om te lei tot die afsterwe van ware sekulêre vryhede.  Ek glo dit omdat dit duidelik is dat die sukses van die Westerse beskawing om vryhede te ontdek en te beskerm was nog altyd geleë in die feit dat dit in sy “DNA” besef het dat sekulêre vryhede nie deur enige humanistiese ideologie self beskerm kan word nie, juis omdat die mens op sy eie oor geen objektiewe verklaring beskik van wat vryheid beteken nie en nog minder weet van watter tipe moraliteit kan vryhede beskerm nie.  Maar die denke in hierdie beskawing was juis uit diep en seer ervaring oortuig dat die vry sekulêre sfeer wel suksesvol gevestig en beskerm kan word deur die aktiewe uitleef van die Christendom se objektiewe morele waardes binne alle aspekte van ‘n vry en sekulêre samelewing.  Daarmee sien ek hoe elke humanis en ook enige heiden van enige soort veilig en beskaaf kan lewe in die sekerheid wat deur die uitleef van Christen waardes geskep word.

Dit was ‘n eeu gelede wat die mensdom, en veral die Westerse beskawing gestaar het na die gevolge en die vernietigende realiteite van ‘n humanistiese sekulêre ideologie - soos verwoord deur Hegel en veral Nietzsche - wat die wêreld in verdwaasde vernietiging van die Groot Oorlog gedompel het.  Steeds het die Weste nie van hulle "moderne" humanistiese morele norme afgewyk nie.  Oor 20 jaar herdenk ons ‘n eeu weg van die begin van die vernietiging wat uit die hart van die darwinistiese oorlewingstryd van die humanis gevloei het – die Tweede Wêreld Oorlog... En ver in die agtergrond staan die Christendom wat na die rand van die Westerse samelewing uitgestoot is.  Vandag staar daardie selfde tipe tegnologies verwaande humanis in die oë van ander vreemde en godsdienstige ideologieë wat gereed staan om die Westerse beskawing oor die afgrond van wanhoop en self vernietiging te stamp.

Wanneer sal die verwronge, verwarde Renaissance mens, wat die sekulêre vryhede wil beskerm, besef dat net Christus – die Woord self wat van die begin by God was, die Woord waardeur alles tot stand gekom het in ons realiteit – ...net hierdie Christus kan die norme bepaal wat nodig is om mense vry te maak?  Die enigste alternatief is ‘n slaaf van absolute betekenisloosheid en die donkerste nihilisme.
John 1:1-5
(Die Bybel 1933/1953)
​1      IN die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.
2 Hy was in die begin by God.
3      Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
4      In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.
5 En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.

No comments: