27 August 2019

Morele Immuun Gebrek Sindroom.

Die Weste en “Goed en Kwaad”

Die Westerse Beskawing soos alle ander beskawings vandag en in die verlede het ‘n stigtings beginsel.  Vir die Hindoe beskawing is daar die leringe van die Brahmaans, vir die Oosterse Siniese beskawings is daar Boeddha en Confucius, vir die Islam beskawing is daar Mohammed.  So is daar Christus vir die Westerse beskawing.  Uit al die beskawings was dit net die monoteïstiese beskawings wat aanspraak gemaak het op ‘n universele aard.  Dit is die Westerse en die Islamitiese beskawings.  In hierdie verband is daar tog ‘n diametriese verskil tussen die Christendom en die Islam.  Hierdie verskil kan die beste en kortste verwoord word in A)‘n hedendaagse Teokrasie wat die Islam preek en B)‘n toekomstige Teokrasie wat die Christendom preek.  Die Islam glo Mohammed het reeds die volkome boodskap gebring terwyl die Christendom glo dat die lewende Christus deurlopend die volkome Woord is en vir ‘n ewigheid geregtigheid met God bewerkstellig.  Met hierdie agtergrond kan ons ‘n paar ernstige vrae oor die Westerse beskawing vra.  Waarvan die mees prominente vraag, vir my, in hierdie stuk, is:  Wat is die storie met Westerse Humanisme?

Die tesis wat ek as ‘n antwoord vir hierdie vraag gaan voorhou is dat Westerse Humanisme in werklikheid altyd onderliggend deel van die Westerse morele realiteit was, maar dat dit ‘n nuwe vernietigende fokus op die mens geplaas het gedurende die Era van Verligting.  Die fokus van humanisme was nog altyd deur die Westerse beskawing beskou as ‘n bose mens-gerigtheid wat die vermoë tot morele opheffing ondermyn en daarom totaal onderwerp moes word.  Om hierdie tesis te verduidelik gaan ek dit aan die hand van ‘n analogiese vergelyking doen.  Die vergelyking gaan oor die stigtings beginsel van die Westerse beskawing praat as ‘n menslike en gemeenskaplike vermoë om goed en kwaad te kan onderskei en meer presies die metodes wat vir daardie onderskeidingsvermoë beskikbaar is.  Naas die vermoë om goed en kwaad te onderskei, moet daar in hierdie vergelyking verder gegaan word.  Ons moet ons beskawing sien in terme van ons vermoë om met goed en kwaad saam te leef, met die klem op "saam met ander mense" in ‘n beskaafde gemeenskap te leef, terwyl goed en kwaad altyd teenwoordig is.

Die vergelyking wat ek gaan gebruik is gebaseer op kennis wat Verligting Era denkers nog nie baie duidelikheid oor gehad het toe hulle die basis van die nuwe humanistiese Westerse denke kom lê het nie.  Die kennis wat as ‘n vergelyking gebruik gaan word is ons moderne kennis oor die bestaan, oorlewing en kontinue herstel van mikrobiese lewende sisteme soos bakterie, virusse, fungi en die immuun stelsels, saam met makro-biologiese sisteme soos byvoorbeeld walvisse en mense se liggame.  Sonder om in te gaan in die diep kennis oor hierdie tipe organismes en sisteme kan ons veral fokus op die eenvoudige realiteit wat ons in die biosfeer raak sien... is dat daar ten alle tye mikrobiese patogene saam met ander mikrobiese sisteme teenwoordig is in die liggame van meeste makro-biologiese sisteme.  Ongeag hierdie realiteit moet ons ook erken dat, te midde van hierdie patogene, weet ons dat meeste organismes baie naby aan optimale funksie bestaan.  Lewe op aarde is asemrowend bestand teen patogene en leef in ‘n statisties gesproke... "oorweldigende meerderheid"... as florerende organismes, gereed om die meeste, beste en mooiste van hulle biosfeer te maak.  Die punt hier is juis nie dat mense en ander organismes sonder patogene leef nie, maar dat ons te midde van patogene en parasiete binne ons eie liggame steeds goeie lewens ervaar, in die algemeen.

Vir hierdie vergelyking om goed te werk moet ons net na die biologiese realiteit kyk, en vir ‘n oomblik die mens se emosionele toestand en gemoed in die algemeen buite die vergelyking hou.  Dit sal duidelik blyk hoekom dit ‘n goeie strategie is, spesifiek vir hierdie analogiese vergelyking.  Daarom kyk ons net na die ongelooflike realiteit van biologiese mens wees, saam met al die ander organismes in ons biosfeer.  Daarin is ‘n les wat ek hoop ons kan leer uit ons biologiese bestaan, sodat ons dit op ons beskawings realiteit as Westerlinge kan toepas.  Wie weet, dalk is daar selfs ‘n les vir ander beskawings om uit te leer, maar dit is pertinent nie my doelwit nie, terwyl enige iemand welkom is om dit universeel uit te brei.

So, as ons nou die natuurlike toestand van die Westerse mens kan vergelyk met ons biologiese toestand, om daaruit iets te leer.  Iets te leer oor ons morele bestaan waar goed en kwaad ook ‘n groot vraag is.  Wat is daardie natuurlike toestand?

Die natuurlike toestand van alle lewe op aarde is dat patogene bestaan tussen en saam met alle lewende sisteme.  Dit is by absolute uitsondering dat daar nie ‘n patogeen vir ‘n makro-biologiese sisteem bestaan nie.  En ons kan verder gaan en erken dat daar feitlik vir alle makro-biologiese sisteme ook een of ander biologiese patogeen is.  Dit is verseker nie net chemiese stowwe wat ons kan dood maak nie, daar is mikro-organismes wat altyd in ons teenwoordigheid is, binne ons liggame is, wat ons kan dood maak... enige oomblik.  Maar ons gaan nie so maklik dood nie!  Daar is naas die patogene ook ander biologiese sisteme en organismes wat ons aktief en deurgaans beskerm teen hierdie patogene.  Dit is hoekom ons nie so maklik dood gaan nie, en hoekom daar steeds so ‘n magdom makro-biologiese diversiteit is van spesies wat, te midde van patogene, oorleef.  Ons natuurlike toestand is ‘n toestand waar die dood meganismes op ‘n kontinue basis deel van ons fisiese wese is, maar dat ons te midde daarvan nie maklik dood gaan nie.

Saam met ons natuurlike toestand kan alle mense ook erken dat hulle persoonlike ervaring van die teenwoordigheid van patogene het.  Ons almal weet wat dit beteken om siek te wees, selfs al is dit net ‘n verkoue wat ons so nou en dan in ons lewe ervaar.  Daar is ook baie van ons wat ernstiger gevolge van patogene ervaar en selfs ervaar hoe die dood ons geliefdes tref, maar as ons vir hierdie vergelyking nie vas kyk in die emosionele impak wat die dood op ons het nie, kan ons sien dat meeste mense en veral ander organismes waarvan ons weet, ongelooflik floreer.  Ons kan waarneem dat, te midde van al die patogene, is ons ganse biosfeer oortrek met derduisende spesies en der miljoene lewende organismes van alle vorme, kleure en wonderbare skoonheid.  Dit is daarom vir ons so oorweldigend in ons bewussyn dat ons nie die heeltyd aan die patogene in ons liggame of ander organismes se liggame dink nie, maar dat ons dink aan al die wonderlike ervarings wat ons beleef.

Dit is vir alle lewe of daar ‘n "norm van genot aan die lewe" is.  As ons na voëls kyk, dink ons nie aan die patogene in hulle ingewande is nie.  Ons dink aan die skoonheid van hulle vlug, hulle vermoë om kos te kry, nes te bou en hulle elegante bestaan aan ons bekend te maak.  So word ons nie deur die dood masjiene in organismes oorweldig nie, maar wel deur die lewe wat uit alle organismes straal.  Dit is ook veral wat ons in mense sien en wil sien... Lewe en oorvloed!  Ons sien die lewe en nie die dood nie.  Dit is vir ons natuurlik om op die lewe en nie die patogene te fokus nie.  Maar nou moet ons versigtig word, en vir onsself vra, as daar dan altyd patogene geassosieer is met alle vorme van lewe, hoekom is lewe vir ons die norm van bestaan en nie die proses van afsterwe nie?

Wat is dit wat veroorsaak dat ons nie nodig het om aan patogene te dink nie?  Wat is dit wat veroorsaak dat ons verwag om gesond te word, as een of ander patogeen ons liggaam siek maak?  Ons almal weet dat daar ongelooflike komplekse en suksesvolle immuun sisteme is wat deurgaans werk om ons gesond te hou.  Dit is sisteme wat nooit ophou om vir patogene te soek nie.  Altyd deur soek en patogene aanval en verseker dat die patogene altyd in remissie bly.  Sisteme wat nie patogene kan erken en vernietig nie, word 'n "immuun gebrek sindroom" genoem.  Dit is ‘n uiters gevaarlike tipe virus wat so 'n siekte toestand kan reg kry, en tot baie onlangs was die mens nie bekend met so ‘n tipe patogeen nie.  Tog is dit vir hierdie vergelyking baie waardevol, want in die Westerse beskawing het daar ook ‘n "morele virus" ontstaan wat die ganse beskawing laat ly aan ‘n "morele immuun gebrek sindroom".

Dit is waar my vergelyking dan in kom.  ‘n Analogiese vergelyking om die Westerse beskawing se stigtings beginsels te beskryf in terme van ons huidige morele dilemma.  As ons morele boosheid as die patogene in ‘n gemeenskap of individu se morele wese sien, en die totale biologiese organisme as die gemeenskap of die individue se totale wese sien.  Dan kan ons die Westerse beskawing se stigtings beginsel sien as die oortuiging dat Christus die morele boosheid/patogene, wat altyd teenwoordig is in ‘n gemeenskap/organisme, finaal kom oorwin het tot die mate waar daardie gemeenskap waarheid, goedheid en skoonheid en lewe en oorvloed as ‘n norm van morele bestaan het, met die verwagting dat die gemeenskap vir ewig in oorwinning oor die morele boosheid/patogene kan en sal staan.  Die oorwinning is oor die meganisme van dood en nie verwydering van daardie meganisme uit ons realiteit nie.  Morele patogene word en kan in remissie geplaas.

Die Westerse beskawing se stigtings beginsel was nog altyd gekontrasteer teen ‘n wanhopige oortuiging dat morele boosheid altyd die oorhand sal kry en gemeenskappe meer siek as gesond sal wees.  Dit was ‘n wanhopige oortuiging wat onder die oorspronklike barbaarse stamme bestaan het en suksesvol oorkom is deur die boodskap van Christus te verstaan en uit te leef.  Vir die Weste was die erkenning van die Goddelike en volmaakte oorwinning oor die morele boosheid van hulle eie bestaan kardinaal.  Daar was ‘n volkome en intense onderbewussyn wat deur die leer van Christus gemobiliseer was om alle patogene/boosheid uit die gemeenskap uit te werp, nie met die verwagting dat die mens of gemeenskap ooit sonder sonde gaan wees nie, maar met die wete dat die totale gemeenskap/organisme wel gesond en genesend kan en moet bestaan.

Dit was nooit, of altans tot en met die opkoms van invloedryke denke, soos Niccolò Machiavelli se skeptiese idees oor die “ware aard van menslike morele gedrag”, die geval dat die Westerse beskawing oortuig was dat boosheid ‘n onoorwinbare realiteit is nie.  ‘n Bose realiteit wat bloot ingespan kan word om die gemeenskap mee te manipuleer.  ‘n Mens kan verder gaan en erken dat iets soos die verkoop van “aflaat briewe” deur die Roomse Kerk dieselfde effek op die Westerse beskawing se immuunstelsel teen die patogene van boosheid gehad het.   Dit was in presies daardie tyd wat die oorwinning oor sonde, of totaal ontken was, of die Kerk die oorwinning oor sonde uit God se hande geneem het, dat die Westerse beskawing ook ‘n ongelooflike geestelike en intellektuele herlewing beleef het in die Reformasie en die Verligting.

Maar gedurende die stigting van die Westerse beskawing was die uitwerking van die stigtings beginsel dat alle gemeenskappe binne die beskawing los gemaak is van die verlammende oortuigings wat soos ‘n “immuun-gebrek-sindroom” voorgekom het.  Sodat die liggaam teen die patogene/boosheid natuurlik kon optree en ontslae kon raak van boosheid.  Die barbaarse stamme het die Christen sendelinge uit die vervalle Romeinse beskawing gesien as die draers van ‘n volkome morele immuun sisteem, totaal bevoeg om genesing te bring deur die patogene/boosheid uit te wys en te vernietig, tot die mate wat dit so dormant geword het dat dit nie die liggaam/gemeenskap meer siek kon maak nie. In totale remissie kon gaan.  Dit was 'n deurlopende morele genesing wat soos 'n immuun sisteem nooit opgehou het nie, altyd gereed om boosheid uit te werp.

Die morele oorwinning van Christus was in werklikheid soos ‘n volkome immuun stelsel, wat te midde van die teenwoordigheid van patogene, die vermoë het om die patogene te erken en uit te werp, tot die mate dat die liggaam/gemeenskap/individu gesond kan leef.  ‘n Morele gesonde lewe was toe ontbloot as ‘n lewe wat vol is van die vrugte van die Heilige Gees. Liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing.  'n Lewe en gemeenskap waar die deugde wat God uit alle tye, sistematies bekend gemaak het, sodat die Westerse beskawing dit van uit die Griekse wysheid kon erken het as; 1)Omsigtigheid – Prudence, 2)Matigheid – Temperance, 3)Geregtigheid – Justice, 4)Moedigheid – Fortitude, 5)Geloof – Faith, 6)Hoop – Hope, 7)Liefde – Love.  Deur Christus en God drie-enig met ons in die Heilige Gees was ons lewe so oorvloedig en vervul dat boosheid gedurigdeur in totale remissie geplaas kon word.

Dit behoort nou vir enige lid van, of student van, die Westerse beskawing duidelik te wees dat iets dramaties begin verander het.  Dat daar ‘n dramatiese verwerping van die goddelike immuun sisteem gekom het, en dat die Era van Verligting ‘n ander tipe humanistiese sisteem van ons gemeenskap se bestaan kom instel het.  Die nuwe sisteem kan volledig en raak beskryf word met die tesis wat gevloei het uit Jean-Jacques Rousseau se invloedryke humanistiese oortuiging dat die natuurlike mens sogenaamd nie oorspronklik boos is nie, maar individueel "volmaak" is.  Volgens Rousseau was boosheid/patogene nou verskuif na eksterne sisteme, sosiale instansies/’n tipe ekosisteem wat die "volkome individu" in sy eksterne omgewing ervaar.  Boosheid was nie meer iets wat wesenlik en persoonlik deel is van sy eie morele wese nie.  Of dit werklik sy bedoeling was om die totale Westerse beskawing terug te gooi in ‘n morele “immuun-gebrek-sindroom” kan ek nie met sekerheid sê nie, maar ek kan met oortuiging erken dat sy filosofie se verwerping van die mens se behoefte aan ‘n volkome goddelike "morele immuun sisteem" soos wat net God self kan in stand hou, het tot morele verval/”immuun-gebrek” gelei.  Dit is of hy ons goddelike DNA kom ondermyn het om nie meer die vermoë te hê om morele boosheid/patogene te erken vir wat dit in werklikheid is nie.

Die totale Westerse humanistiese bestaan het sedert Rousseau se filosofie begin metastaseer tot die mate dat ons nou as Westerlinge en ander beskawings, as toeskouers en nabootsers, toekyk hoe daar ‘n absolute verwarring is oor wat morele boosheid/patogene in werklikheid is.  Die filosofie van Rousseau en die verwerping van Christus het tot ‘n materialisme gelei wat openlik erken dat daar nie in werklikheid ‘n bewussyn van die patogene in ons beskawing/organisme behoort te bestaan nie.  Ons simptome van morele onsekerheid is bloot 'n "koors" wat deur eksterne omstandighede veroorsaak word...

Materiële vooruitgang en ons vermoë om die eksterne omgewing grootliks te manipuleer, selfs biologiese sisteme wat ons kan manipuleer, was en is vandag steeds gesien as ‘n tipe “absolute bewys” dat ons nie boos is nie.  Enige poging om die patogene van boosheid, binne ons eie natuurlike wese, aan te spreek word aktief deur ons beskawing se sisteme ondermyn en as ‘n nuttelose en dalk selfs gevaarlike immuun respons gesien, omdat dit ons selfbeeld gaan skade doen as ons dink dat ons morele patogene in ons diepste wese het.  Dit is of ons ons binneste sondige bose werklikheid ontken en weier om die patogene in remissie in te dwing deur die oorwinning van Christus se volkome immuun sisteem.  Ons sal eerder eksterne omgewingsfaktore beskuldig, instansies, verhoudings, gebruike fokus op meganiese vooruitgang, in plaas daarvan om die wonder van ‘n deugsame gesonde lewe, wat ons wel binne ons het.

Maar nou moet ons vir onsself vra hoekom ons dan as ‘n Westerse gemeenskap so materieel suksesvol is?  Ons leef dan soveel langer as ons Westerse voorouers, armoede word so vinnig minder, welvaart word so vinnig meer en versprei tog suksesvol na meer en meer mense.  Hoe kan ons voorgee dat ons siek is of siek kan word as ‘n gemeenskap, as ons dan so gesond voel.  Ons simptoom onderdrukking is dan so volkome, ons het nie ‘n immuun sisteem nodig nie.

Dit is ‘n oortuiging wat ek self ook gereeld gehandhaaf het omdat ek die Rousseau-iese beloftes van die sondeloosheid van die mens geglo het en die psigose dat patogene net ‘n illusie is, soos wat ek dit in my wese aanvaar het as 'n illusie... ongeag my "morele hoofpyne en koors".  Soos so baie moderne Christene het ek myself oortuig dat, "Een maal ‘n Christen, altyd ‘n Christen", beteken God het alle patogene uit my wese uit verban en my in ‘n kwasi-Rousseau-iese "volmaakte toestand" geplaas.  Ek het myself volkome oorgegee aan ‘n “immuun-gebrek-sindroom” omdat Rousseau my ook onder-bewustelik oortuig het dat patogene binne my net ‘n illusie is.  Wat vir my meer belangrik was dat ek Rousseau ook geglo het dat ons nie ‘n immuun stelsel nodig het nie, maar net ‘n ekosisteem van materiële versorging nodig het – ek het die “interne-ekosisteem van patogene en organismes” binne myself totaal ontken en ‘n eksterne meganistiese materialistiese benadering tot die bestaan van my wese aanvaar.  Ek was oortuig dat as ons boosheid ignoreer en net die megano-sfeer as eksterne gemeenskappe/organismes geniet, dan hoef ons nie oor die boosheid/patogene in ons eie "liggaam van die dood" te dink nie.  Ek persoonlik is ‘n wetenskaplik georiënteerde mens en ek weet dat ons wetenskaplike vermoëns het om werklik alle omgewing en sosiale uitdagings te kan oorkom.

Vir my was dit aanvanklik maklik om eksterne politieke onderdrukking en hulpbron magsbalans die skuld te gee vir die swaarkry, konflik en oorloë wat die Era van Verligting tot ‘n einde gebring het na die Tweede Wêreld Oorlog.  Uit die geskiedenis na die Oorlog het ek steeds nie gesien hoe ons morele immuun-gebrek-sindroom veroorsaak het dat alles wat beskaaf is teen mekaar in konflik gekom het nie – ek was blind vir die patogene wat ons siek maak, want ons kon die simptome onderdruk.  Ek het nie gesien hoe baie verskillende morele siektes ons Westerse stigtings beginsels kom oorweldig het nie.  Ek het nie gesien hoe ons blootgestel word aan ‘n totale morele onvermoë om teen die morele patogene op te tree nie.  Ek het nie gesien hoe die beginsels wat goed en gesondheid vir ‘n gemeenskap bring onderwerp word aan inversie nie.  Goed het sleg geword en sleg het goed geword.

Dit behoort dalk nou uit hierdie vergelyking duidelik te word hoekom die boodskap van Christus die stigtings beginsel van die Westerse beskawing is.  Dit is omdat net Christus die realiteit van morele boosheid/patogene in ons kan bevestig en net Christus kan verseker dat ons morele genesende/immuun sisteme en instansies aktief bou en in stand hou, wat gereed is om teen die patogene in ons eie liggame op te tree en dit volkome te genees dat ons waarlik gesond kan leef.  Die realiteit van morele patogene in elke mens moet ten alle koste raakgesien en erken word vir wat dit is.  Soos Niccolò Machiavelli dit raak gesien het in “die Prins”, moet ek dit ook raak sien, maar met die uitsluitlike doel om die goddelike immuun sisteem daarop attent te maak en in my diepste morele toewyding deel te neem aan die proses om boosheid in remissie in te dwing.

Ek sal daarom nooit ophou om uit te kyk vir morele boosheid in my eie wese nie, net soos wat ek ook nooit verwag dat my immuun sisteem moet ophou uitkyk vir patogene in my eie liggaam nie.  Ek sal ook nooit verwag dat enige morele immuun sisteem anders as ‘n goddelike volmaakte sisteem die vermoë het om my teen morele patogene te beskerm nie.  Om die aard van boosheid af te water tot enige iets wat deur ‘n mens self onderwerp kan word, was deur al die eeue heen die begin van die einde van alle beskawings.  Dit is juis die Weste se immorele gedrag wat duidelik uitstaan vir die ander moderne beskawings op aarde, soos die Ortodokse Russiese beskawing, die Islam beskawing, die Indiese beskawing en die Sjinese beskawing.  Hulle almal dink die Weste het die morele pad byster geraak, maak nie saak hoe huigelagtig en verwaand hulle oortuiging is nie, dit is gegrond op feitelike ervaring.

Net ‘n goddelike absolute gesag oor boosheid/patogene kan ‘n beskawing bring en in stand hou.  Dit is vir my ‘n nederige voorreg om deel van die Westerse stigtings beginsel te kan wees.  Ek sal altyd God se koninkryk en sy geregtigheid soek, want in die proses sal ek altyd genees word van die patogene/boosheid wat altyd teenwoordig is, dalk tot en met Christus se wederkoms.

No comments: