21 June 2015

Die reg om uit parasitiese ooreenkomste te tree...


Vry om in ooreenkomste te tree...

Die mens se reg om ooreenkomste aan te gaan is 'n fundamentele eienskap van menswees en totaal verbind aan ons vermoeë om vrydenkend te wees.  Die poging om die mens se vrydenkende wese te ontken lyk bloot na 'n materialistiese poging tot onderdrukking, juis omdat 'n verwerping van 'n vrye wil impliseer dat daar nie iets soos ware ooreenkomste kan wees nie.  'n Verhouding wat nie uit vrye wil ontstaan nie kan nie as 'n ooreenkoms beskryf word nie... Op die meeste kan 'n materialistiese verhouding as 'n natuurlike verhouding  beskryf word. Om van 'n materialistiese ooreenkoms te praat het geen logiese sin nie, want 'n natuurlike verhouding gaan parasities of simbioties wees, maak nie saak wat sogenaamde besluit word deur 'n selfbewuste agent, soos 'n mens, nie.  Vir die materialis is dit net "materie in beweging" en keuse is 'n illusie. Dit is dus uit praktyk duidelik dat die mens wel vrylik in ooreenkomste kan tree en dat dit sal tot logiese teenstrydighede lei as dit enigsins ontken word... Vrye wil is of werklik of 'n illusie en kan nie altwee wees nie.  Selfs 'n argument teen "vrye wil" maak gebruik van die werklikheid van die gedagte wat tot stand gekom het en verwerp dat dit 'n illusie is elke keer as daar gevra word dat dit aanvaar moet word.

Deur die eeue het die mens die status van ander mense of groepe bepaal op grond van hulle reg, of vermoeë, om 'n keuse te maak oor die ooreenkomste en verhoudings waarin hulle staan.  Dit is wat koloniale oorheersing, slawe handel en alle vorme van outokratiese oorheersing behels het.  Onderdrukking het nog altyd die reg om in ooreenkomste te tree vir sekere individue of groepe beperk. Sederd die vroegste tye was materialistiese sienings gebruik om die mensdom aan die mag van die die natuur te onderwerp tot so 'n mate dat ons vertel word dat ons nie werklik kan besluit nie en moet toegee aan die mag van die verloop van die natuur, soos beskryf deur die ingewyde priesters.  Net so word moderne materialisme vandag in alle sfere van kennis in gedwing en ons word weer onderwerp aan die "spesialiste" se beskrywing van ons realiteit slegs in terme van fisiese patrone en nie in terme van ons elkeen se bewussyn en beskrywing van alle patrone en gedagtes nie.  Dit is hierdie onderdrukking van ons reg om self verhoudings en ooreenkomste raak te sien in ons ervaring as mens wat fundamenteel staan tot ons bewussyn.

Dit blyk dan nou duidelik te wees dat die aard van gelykheid kan daarom, fundamenteel, in terme van die reg om vrylik in ooreenkomste te tree beskryf word.

Die fundamentele aard van die mens, (...en enige hipotetiese selfbewuste agent), se universele reg om self in ooreenkomste te tree is so 'n oorheersende eienkap van ons bewuste bestaan as wat energie die fundamenteel beskrywing van alle fisiese toestande is. Die nut van hierdie insig is geleë in die beskrywing van vryheid en gelykheid.

Kom ons gebruik 'n voorbeeld waar iemand vrylik kies om van sy fisiese en emosionele ervarings op te sê en so 'n uitnemende sport man/vrou te word, omdat daardie persoon self gekies het om so baie ure te oefen en die pyn van seer spiere te aanvaar as deel van die ooreenkoms om persoonlike uitnemendheid na te streef. In hierdie ooreenkoms is daar gewoonlik meer as een persoon betrokke en kan dit gebeur dat die vryheid en aard van die verhoudings wel onderdrukkend raak. In 'n geval waar 'n ouer namens 'n kind besluit wat die toewyding moet wees, is dit duidelik dat die kind se reg om vrylik in 'n verhouding te tree nie, "geoefen" word nie, maar wel onderdruk kan word.  Dit moet verseker nie verwar word met "onderdrukking" as 'n atleet sy afrigter of ouer toevertrou om sekere besluite namens hom/haar te neem nie - dit kan maklik bepaal word deur die atleet self te vra en dit is presies waar ons vryheid om in ooreenkomste te tree erken en gerespekteer word.

As enige gesag namens 'n individue besluit wat die aard van 'n ooreenkoms MOET wees, dan is daar geen sprake meer van 'n mens wat vrylik in ooreenkomste tree nie.  Soos genoem, kinders verwag dat hulle ouers hulle "oefen" hoe om in ooreenkomste te tree, nie om namens hulle in ooreekomste te tree nie.

Simbiotiese en Parasitiese Ooreenkomste...

Dit is wel so dat ons as deel van die natuur ook in simbioties en parasitiese verhoudings staan. Die groot verskil is dat ons as mense wel die reg het om self die aard van verhoudings te beïnvloed. Dit kan parasities wees, soos wanneer menslike gedrag so parasities op die natuur inwerk dat biologiese spesies uitsterf en ekosisteme in duie stort as gevolg van menslike toedoen. Maar dit kan ook simbioties wees soos wanneer taal en kultuur "spesies" in verhoudings en ooreenkomste beskerm en uitgebrei word.

Dit is dus duidelik dat, naas die feit dat ons kan bepaal tot hoe 'n mate ons vry is om in ooreenkomste te tree, kan ons ook bepaal tot hoe 'n mate ons in parasitiese of simbiotiese ooreenkomste en verhoudings staan.  Dit is algemeen aanvaar dat parasitiese verhoudings dramatiese nadelige effekte kan hê.  Uit die definisie van 'n parasitiese verhouding behoort dit duidelik te wees dat dit moontlik is vir 'n ooglopend parasitiese verhouding om wel 'n versteekte maar wel algemene voordelige doel te dien.  In so 'n gevel is daardie verhouding nie regtig parasities nie. As 'n verhouding enige spesie of ekosisteem se voorbestaan bedreig, dan is dit dalk reg om daardie verhouding parasities ten opsigte van daardie bedreigde spesie of ekosisteem te sien. As daardie bedreigde spesie selfbewus is en vrylik kan kies, dan behoort dit duidelik te wees dat 'n keuse bestaan om 'n manier te probeer vind om uit die parasitiese verhouding uit te tree, deur nuwe beter en uiteindelik simbiotiese ooreenkomste.

Wat is daarom die nut van die staat as die staat jou en jou gemeenskap in parasitiese verhoudings in dwing, in plaas daarvan om jou te oefen en geleenthede te gee om in simbiotiese verhoudings te tree? In die verlede was parasitiese verhoudings afgedwing deur feudale heersers, fasciste, kommuniste en ander vorme van outokratiese state.  Die moderne metode van onderdrukking is nog steeds om te verseker dat individue of groepe in parasitiese verhoudings gedwing word wat meer neem as wat dit gee. Sulke gedwonge parasitiese verhoudings is onregmatig en behoort bestry te word as daar enige geregtigheid bestaan.

Die aard van parasitiese verhoudings is verfyn in die moderne tyd en het baie te doen met 'n wan interpretasie van gelykheid en vryheid en demokrasie.  Die wan interpretasie kom gewoonlik te voorskyn in gevalle waar daar gestreef word na meer as bloot die reg om vrylik in ooreenkomste te tree.  Dit sal wees in gevalle waar 'n "benadeelde" groep nie net die reg kry om vrylik in enige ooreenkoms te tree, nie maar ook bevoordeel word ten koste van enige ander groep se reg om ook vrylik in ooreenkomste te tree.  In Suid-Afrika is regstellende aksie juis daardie wan interpretasie wat juis nuwe parasitiese verhoudings skep. Dan is daar ook korrupsie wat parasitiese verhoudings tot stand bring vir die wat vir die korrupsie moet "betaal". Parasitiese verhouding kom ook te voorskyn wanneer sogenaamde spesialiste besluit watter ooreenkomste die beste vir sekere groepe is en dan die staat gebruik om dit af te dwing.  Een van die beste voorbeeld in hierdie verband is die parasitiese verhoudings wat afgedwing word in skole waar moedertaal onderig gedwing word om plek te maak vir 'n ondraaglike las om dubbel medium te word.

As 'n regstaat nie die reg op vryheid om in ooreenkomste te tree beskerm nie, dan is daar nie meer geregtigheid nie.  Die reg om vrylik in ooreenkomste te tree is fundamenteel en moet deur elke individu uitgeoefen word.  Selfs die staat se bestaan is krities afhanklik van individuele ooreenkomste wat dit in stand hou.  Dit is uiters insiggewend om waar te neem hoe maghebbers wat parasitiese verhoudings op ander individue en groepe af dwing, hulleself los maak van enige ooreenkoms of verhouding wat hulle kan dwing om simbioties op te tree.

Die konklusie is eenvoudig... 

Elke mens het die godgegewe reg om vrylik in ooreenkomste te tree insluitende die ooreenkoms om uit parasitiese verhoudings uit te kom. As 'n Christen weet ek wat die mag van sonde op my en die samelewing en omgewing is en ek weet dat in Christus is ons almal vry om in 'n verhouding met God geplaas te word, sodat ons wel gedurig uit sondige verhoudings kan tree - uit verhoudings wat parasiteer op die natuur en op ons vrye sosiale bestaan.  As jy as individu nie daardie reg opeis en uitoefen nie, dan kan jy nie sinvol kla oor die parasitiese aard van die verhoudings waarin jy staan nie.  As jy wel deelneem en jou reg opeis om te verseker dat jy in simbiotiese verhoudings staan, dan het jy die reg om ooreenkomste so te kies dat alle simbiotiese voorbestaan verseker word.

No comments: