1 June 2015

Teen Materialisme...


As die tweede wêreld oorlog ook deur industriële aspirasies gedryf was, wat sal die industriële aspirasies van ons moderne tyd vir ons bring?  Dit laat my ook dink wat die Christen te doen staan.  Voor die Eerste en Tweede Wêreld Oorlog was die gees van materialisme ook gedryf tot ‘n hoogtepunt.  Dit blyk dat die 19de eeu was ‘n uiters materialistiese eeu.  In ‘n sekere sin selfs meer as die 20se eeu.  Uit die 20ste eeu was daar vooruitgang in Christelike denke, maar die vervolging en onderdrukking van Christen denke het nie minder geword nie. C.S. Lewis het met reg gesien dat die vervolging van akademiese Christene na sy tyd groter gaan word ongeag die besondere belangstelling in die Christendom wat dit voorafgegaan het.  Die aard van hierdie insig laat my wonder of die wonder van die Christendom nie tog die inleiding tot die koms van die ware Bruidegom van sy kerk sal wees nie?  Dit is nie of God ons ooit alleen gelos het nie.  Die teenwoordigheid van God in sy skepping van die begin af is duidelik sigbaar in die werke van sy hande en dit kan beswaarlik ontken word.

Die wonder van die moderne Christendom is die feit dat die vrae wat nog altyd deur enige moontlike logiese en irrasionele teenstand gebring kan word is reeds geantwoord en word weer en weer geantwoord - op nuut ontdek... God dank vir die wonder dat die evangelie deur die geslagte weer en weer ontdek kan word. Dit is nie of die wêreld net vir een keer God ontdek en dan glo ons asof ons dit van daardie tyd af in ons genetika opgeneem is nie.

Die fisiese liggaam is 'n objek van struikeling as dit aanbid word en die fokus van ons bestaan word. Die skoonheid van ons bestaan is geleë in die wonder van ons gedagtes en die betekenis wat ons aan goed gee, terwyl ons nuwe dinge skep.  Die natuur op sy eie gee eenvoudig aan niks betekenis, dit is net daar...  Die begrip "’n toestand realiseer ten koste van alle ander moontlikhede" is 'n logiese onmoontlikheid vir die natuur alleen want dit impliseer ‘n totaal onafhanklike observeerder.  In die natuur, op sy eie beskou, is daar is geen bewussyn van “enige ander moontlike toestande” wat nog te sê van “alle moontlike toestande”.  Dit is waarom die uniforme verloop van die natuur geen betekenis binne die natuur self het nie.  Die natuur op sy eie is eenvoudig maar net - toestande.  Selfs wat ons as die verloop van tyd beleef is net toestande, want sonder ‘n bewussyn kan dit nie ervaar word as iets anders as "enige moontlike" konfigurasie  van materie nie.  MAAR, met 'n nie-materiële bewussyn van enige aard in 'n verhouding, van enige aard, met die natuur, begin dinge totaal anders lyk.
 
Daar is moontlik 'n struktuur tot uitsluiting van alle ander strukture in die natuur wat met 'n sekere tipe nie-materiële bewussyn 'n soort identiteitsverhouding deel... (soos ons fisiese liggaam.) Maar dit is nie die interessante deel van die vraagstuk nie, want daardie noodsaaklike konfigurasie in die natuur is ook maar net ‘n toestand. Sonder ‘n nie-materiële bewussyn kan dit eenvoudig nie na "dit self" verwys nie.  Dit kan steeds deur 'n generiese bewussyn ervaar word en moontlik ook die tipe bewussyn wat “verkies” om saam met ‘n spesifieke konfigurasie in 'n verhouding met die natuur staan – soos ons bewussyn wat ons fisiese liggaam meeste van die tyd vergesel.  Toets dit deur vir jouself te vra hoe maklik dit is om oor enige konfigurasie van jou "eie" liggaam te praat, bloot as 'n onafhanklike observeerder daarvan.  Dit is dus nie nodig om voor te gee dat ons bewussyn totaal afhanklik van ons liggaam is nie.  Ons praat selfs van ‘n onderbewussyn juis omdat daar fisiese toestande is wat ons nie belangrik ag en ignoreer.  Ons liggaam verloor grootliks kontak met ons bewussyn elke keer as ons gaan slaap.
 
Die grootste skoonheid van ons bestaan is in ons bewussyn en is nie fisies nie maar wel, inligting, abstraksies, betekenis, kennis, liefde, vertroue, geloof, vergiffenis, berou, skoonheid, tegnologie, ontwerpe, algoritmes  ens.

Nie een van hierdie lys van bewuste toestande het enigsins ‘n fisiese self-verwysing nie, want dit is logies uitgesluit – ‘n toestand in die natuur kan eenvoudig nie na dit self verwys nie – selfs al is daar vele toestande in die natuur wat in ‘n kwantum verstrengeling bestaan, verwys dit steeds nie na dit self nie (... sonder ‘n bewussyn wat soek vir enige simmetrie, insluitende kwantum verstrengeling, is kwantum toestand A nie onderskeibaar van kwantum toestand B nie – die natuur “IS” maar net, as jy ‘n bewussyn sou wou weg neem.)

Hierdie gedagtes vorm die basis van my oproep tot die totale verwerping van enige irrasionele materialisme en sinlikheid wat selfs deur die Apostel Paulus, ook in soveel woorde uitgewys is as die vyand van ons saligheid en verhouding met God – “Leef nie na die vlees nie maar na die gees”. Dit is vir my duidelik dat die rede vir die boosheid in die wêreld is in die hart van die siel met sinlike verheerliking van die mens en die skepping bo die Skepper self.  Dit is die aard van die sonde en rebellie teen God wat aan die einde van die dae volkome verwyder gaan word uit God se teenwoordigheid uit.

Persoonlik dink ek dat ons vir ‘n ewigheid op nuut vir God kan ontdek, want anders as wat reduksionistiese materialisme wil voorgee, is daar nie ‘n basis beskrywing van alle moontlike toestande nie, want die tipe betekenis wat God self aan sy handewerk gee kan vir ‘n ewigheid ontdek word.  Ek hoop regtig ons vind sekere basis verwantskappe tussen kwantum toestande, gravitasie en tyd, want dan kan ons eenvoudig aanhou om te vertrou dat God daardie verwantskappe sal onderhou op ‘n manier wat sin maak, al hoef dit nie konstant te bly nie, sal God konstant bly.  Ons gaan moontlik leer hoe om gravitasie te manipuleer tot so ‘n mate dat ons die tyd-ruimte struktuur van die heelal kan buig om meer en meer te ontdek van wat God gemaak het.  Ons gaan dinge kan sien en bestudeer wat nog nie eens in ons gedagtes opgekom het nie!  Die sekerheid van die aard van ons bestaan in God se teenwoordigheid is soveel groter as enige van die kleinlike konsepte van materialisme. Daar is geen einde aan sy grootheid nie!

Hoe kon die ontdekking van God se getroue bestuur van die ganse heelal in verstaanbare meetbare toestande, ons gebring het by materialisme? – Dit is nie ‘n nuwe vraagstuk hierdie nie... Van die vroegste tye af verheerlik die mens die natuur se betroubare gedrag in plaas van die Een wat dit gemaak het.  Die mens se aard om homself en die natuur te verheerlik in plaas van die Skepper is baie oud.  Dit is ‘n oer rebellie wat tot ‘n einde sal kom as Christus weer kom.


Kom Here Jesus, ja kom weer!

No comments: